Tuesday, April 25, 2017

Sunday, April 16, 2017

'n Brief aan my dogter(s)...

*Hierdie skrywe is op 22 Spetember 2014 vir die eerste keer gepost - ek voel vandag 16 April 2017 nog netso!

Jy spot altyd en sê jy het overprotective parents. Dit is nou die reine waarheid so uit die mond van 'n jongeling. En hier, nou, gaan ek probeer om die stroom gedagtes in my kop te omwoord sodat ek kan sin maak uit dit alles.

Toe jy maar sewe jaartjies oud was, aan die einde van jou graad een jaar het die onderwyseres laat weet dat ons met s*ksonderrig by die huis moet begin, aangesien hierdie onderwerp by die skool bespreek gaan word. Ek was totaal geskok en het noodgedwonge voortgegaan om my jonge dogtertjie te vertel van die "blommetjies en die bytjies."

'n Jaar later begin ons met tuisonderrig.

Die sheltering begin.


Is dit verkeerd om ons kinders te beskerm? Te oorbeskerm?

Ilze het verlede jaar tien jaar oud geword. Sy was nog nie 'n dag van haar lewe in 'n skool nie. Totaal ge-"shelter"! Sy het hierdie jaar eers begin vrae vra oor "hoe werk dit" want sy sien wat in die natuur gebeur. En in 'n beskermde omgewing kon haar ek met haar hierdie kosbare oomblikke en inligting deel.


Ek en Pappa het albei beskermd grootgeword. Baie vingers het al teruggewys op ons lewens om te bewys hoe sleg dit eintlik was. Ek en hy het albei direk na skool ons ouerhuise verlaat en die pad heeltemal byster geraak.

Hier is hoekom ek dink ék kop verloor het na skool toe ek onder my Mamma se beskermde vlerk uit is:
  1. Ek het nie die Here geken nie.
  2. Ek wou Hom ook nie eer met my lewe nie.
  3. Dit was 'n groot taboe om oor enige iets soos s*ks of verhoudings te praat in my ouerhuis. 
  4. Daar was nooit enige oop gesprekke in my ouerhuis rondom dwelms of alkohol gebruik nie.
  5. Albei ons ouers het óf self gerook, self te veel gedrink, slegte taal gebruik en/óf openlik hul ongeloof in die Here belei.
Kon ons eie ouers werklik van ons verwag om ons lewens suiwer te hou en die smal pad te loop as hulle ons nie daarvoor voorberei het nie?

Nou is ek en my man die ouers en die voorbeeld.

Wat nou?

Hoe lyk ons lewens en voorbeeld wat ons stel?

Leef ons in dieselfde wêreld as 20 jaar gelede?

Twintig jaar gelede was dit veilig om 'n ses jarige alleen in die strate te laat fietsry en rondloop tot donker. Dit was veilig om te ryloop. Dwelms was nie so vrylik beskikbaar soos vandag nie en Jesus was nog in ons skole. En as ons terugkyk, was dit werklik so veilig as wat ons gedink het? Seker nie.

Vandag is dit 'n perd van 'n ander kleur en ons kinders is reg in die middel van hierdie verwronge geslag sonder waardes en sonder God. Alles is toelaatbaar. Tolleransie is die wagwoord.


Dan kan ek myself ook die vraag vra: Hoekom het God my toevertrou met VYF dogters, as Hy my nie ook toegerus het om hierdie kosbare siele vir Hom groot te maak nie? Hoekom is ék misbruik en my onskuld gesteel en het ek ure omgesit in spreekkamers en terapie, dra ek die letsels as dit nie vir 'n uur soos hierdie is nie?

Ek sal aanhou om julle te beskerm en te oorbeskerm solank as daar asem in hierdie mamma se lyf is.

Ek sal aanhou om elke dag vir julle te bid.

Ek sal aanhou verhoudings bou en aanhou bou en aanhou bou en elke keer as ek afbreek en nie bou nie sal ek verskoning vra en verder bou. En bid. En vertrou.

En dit belowe ek.

En dan, wanneer daardie prins op sy wit perd sy hart vir jou kom bring met 'n ewige belofte van trou, slegs dan sal ek jou laat gaan. Tot dan, is ek verantwoordelik vir jou en sal ek jou beskerm en toevou in my liefde, al voel dit nie elke dag soos liefde nie...

Mamma

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...