Sunday, April 17, 2016

Dinge en goeters.

Ek het my vreeslik vervies anderdag.

Ek het maar 'n redelike beperkte woordeskat as dit by gereedskap en karregoed kom. Vra my eerder om apteek toe te gaan vir 'n pil of 'n salfie want dan sal ek weet wat ek soek. Stuur my naaldwerkwinkel toe dan sal ek regkom. In 'n motorhuis sal ek 'n hamer en 'n spyker en 'n tiestrap kan vind, maar moenie vir enige iets anders vra nie. Partykeer vra my man my om vir hom iets te gaan koop of haal, en dan weet ek nie altyd wat dit is wat hy soek nie.

Ek onthou in my verpleeg opleiding moes ons 'n sekere aantal ure in die teater werk. Ek is gehoorgestemd en die één ding wat ek nie kan doen nie, is om 'n stem te hoor agter 'n teater masker. Iewers in my lewe het ek geleer om baie staat te maak op liplees. 'n Teater masker is my ondergang! Menigte male moes ek rondhardloop vir 'n ding wat ek nie seker was hoe hy geklink het nie en beslis nie geweet het hoe hy lyk nie, en dan gooi 'n skropsuster my sommer met die naaste bloedbesmeerde depper as ek met die verkeerde ding daar opdaag.

Dit gebeur gereeld dat ek vir my man iets moet gaan optel of iets moet gaan koop en dan vra ek hom altyd om maar eerder vir my 'n briefie te skryf met presies wat hy nodig het. Dan staan ek darem nie en soek na woorde en verwys na goeters en dinge wat ek glad geen kennis van dra nie. Dan lyk ek darem ook nie soos 'n idioot nie, maar eerder soos die hulpvaardige huisvroutjie. Hmm ja eerder 'n hulpvaardige huisvroutjie as 'n idioot.

Nou die dag was weer een van daardie dae. Ek daag op en sê dat ek nie regtig weet wat dit is wat ek kom haal nie en haal my selfoon uit om na die sms te soek met die regte woorde, en voor ek nog kon sê, kry ek 'n kortaf: "As jy nie weet wat jy soek nie hoe moet ek dan nou weet!" Nie in 'n vriendelike stemtoon nie maar eerder in 'n stemtoon wat my laat voel soos 'n idioot. Daar staan ek toe en probeer hard om my "sorrie!" nie sarkasties te laat klink nie.

Die dinges...

Wel ek weet steeds nie wat die ding se naam is wat ek daar moes gaan optel het nie, maar een ding weet ek: Ek sal nie weer 'n ding gaan soek wat ek nie weet wat dit is wat ek soek nie.

Volgende keer, skryf maar eerder weer vir my 'n briefie Bokka.

Mignon

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...