Tuesday, January 19, 2016

Hoe om te verhoed dat 'n uitstappie in 'n nagmerrie ontaard. (winkelsentrum veiligheid)

My grootste bang is sekerlik dat ek een van my kinders in 'n groot en besige winkelsentrum verloor, of by 'n besige strand of soos gister, die Akwarium saam met 'n groot groep tuisleerders.

Met 'n vorige Desember vakansie op Struisbaai het Anika weggeraak tussen 'n samedromming van mense op die strand met die jaarlikse Trans Agulhas. Toe ek Joe weer sien was Anika weg. Skoonveld weg! Dis die aakligste gevoel wat ek nie eens wil beskryf nie. Jy soek en soek en jy sien jou kind nêrens nie. Ons kon op daardie oomblik ook nie hardloop en gaan soek nie want ons het nog 4 ander kinders op die strand gehad om oor toesig te hou. Gelukkig het sy self die pad huistoe gekies en gevind want sy is heel rigting bevoeterd en het ons haar veilig by die karavaan gevind.

Van daardie dag af het ons duidelike riglyne wat ons gereeld met die kinders oor gesels en selfs oefen sodat hierdie slegte ondervinding homself nie weer hoef te herhaal nie.





Hier is 'n paar basiese riglyne:

1. As jy wegraak, of jy dink jy is weg, BLY WAAR JY IS, MAMMA SAL JOU KOM SOEK!!!

2. As jy alleen in 'n hysbak beland en die deure gaan toe voor Mamma kan inklim, BLY WAAR JY IS, ry maar saam op en af tot Mamma jou kry. Moenie op 'n ander vloer uitklim nie. BLY WAAR JY IS.

3. As jy dink jy het verdwaal, BLY WAAR JY IS, Mamma sal jou kom soek.

4. Jy moet altyd vir Mamma kan sien. As jy nie vir Mamma kan sien nie, kan Mamma jou ook nie sien nie.

5. Mamma wil ALTYD weet waar jy is!

6. Indien benoud, SKREE, Mamma sal kom!

7. Die Buddy-sisteem: Elke ouer sussie het 'n buddy jonger sussie. Buddies bly bymekaar en stap altyd hand-aan-hand oor 'n straat. Buddies kyk altyd uit vir mekaar! Mamma het gewoonlik ook 'n buddy!

8. Niemand gaan alleen na 'n publieke toilet toe nie. Nooit nie. NOOIT NIE. Onder geen omstandighede nie! Mamma of Pappa of ouer sussie moet altyd saam met jou wees.

Die geheim van enige stel reels is: pas dit konsekwent toe. Gesels gereeld daaroor, veral net voor 'n uitstappie na 'n groot winkelsentrum of besige publieke plek.

Mignon
(En toe gebeur dit toe ook so... Verlede Saterdag raak Micah soek in Tygervallei Sentrum. Ek en Joe draai toe onmiddellik om om haar te gaan soek en dáár staan liefie toe, doodstil, net daar waar ons haar laaste gesien het!!! Prys die Here, dankie Jesus!)

No comments:

Post a Comment

Thank you for stopping by. I would love to hear from you so drop your comment in the box.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...