Friday, June 19, 2015

Wat as jý die persoon is wat nou vir die vier honderste keer oortree het, en al wat jy vra is vergifnis...

Ons het teruggekom van 'n heerlike wegbreekkans op ons gunsteling kusdorpie. Vroeg oggend begin oppak inpak en skoonmaak. Ontbyt was maar skraps en teen 10 uur was almal alweer eterig. Ons het die aas in tannie Heléda se vrieskas vergeet en moes omdraai. Ons kon nie verby die Wimpy ry sonder om te stop nie. Dis al deel van die Struwig kultuur. Ag tog ek wil nie verskonings maak nie, maar dit was ons groot oortreding op dié noodlottige Sondag. Skuldig is ons wel, maar dit was wrintiewaar nie aspris nie.

Ons het laat opgedaag vir Sondagmiddagete. 'n NEGENTIG minute laat!

Die Sondagmiddagete wat spesiaal beplan was vir Joe se verjaarsdag. Die datum was mooitjies twee keer geskuif. Ha! en toe wens niemand hom eers geluk toe hy uiteindelik regtig verjaar nie! Maar nou hardloop ek die storie vooruit.


Toe ons oor Sir Lowry's pas ry toe gaan staan die verkeer bot stil. Ek stuur 'n tweede sms vir Pa en sê dat ons beslis laat gaan wees. Hulle kan maar solank begin eet want ons weet swaer is 'n diabeet. Pa sê ons moet nie jaag nie en veilig ry als is reg.

Maar als was gin niks reg toe ons half twee daar aankom nie.

Met die intrapslag het ek gevoel om eerder om te draai en weg te hardloop. Niemand het opgestaan om ons te groet nie want hulle was alreeds halfpad deur hul ete. Net my Ingelse swaer het byna oor die tafel geval van vriendelikheid om ons te groet. Nog nooit het ek so onwelkom in my eie ouerhuis gevoel nie. Nie dat ek dit meer 'n ouerhuis kan noem nie want ek het nie eens geweet waar om te begin soek vir 'n koeldrankglas nie.

Laataand toe kom die whatsappies deur.

Dit het my meer as 24 uur gevat om af te koel dáároor.

Dinsdag toe bel ek om omverskoning te vra en te sê dat ek jammer is. Seker maar dieselfde ding. Toe word my kop eers weer gewas oor hoe ongerieflik ja ongerieflik was die woord wat sy gebruik het ons dit vir almal gemaak het. Sjoe het ek gewonder het julle dan nie ten minste lekker saam gekuier voor ons daar aangekom het nie??

En toe ek anderdag weer bel toe is almal nog netso onvriendlik. Ongenadiglik. Genade! Wat moet 'n mens dan nou doen? 'n Blogpost skryf!?

Hoekom is dit so dat wanneer mens al jou moed bymekaarskraap om 'n telefoon op te tel, jouself te verneder en te sê jy is jammer, dat jou neus eers weer in die gemors gevryf moet word? Ek sê mos dan nou ek is jammer.

Ek is regtig jammer.



Die dag het nou ongelukkig vir my aangebreek waar ek nou genoeg gesê het ek is jammer. Want die 70 maal 7 keer se vergifnis is nie vir my beskore nie.

Daar is niks slegter as om verskoning te vra en nie verskoon te word nie. Om jammer te sê en nie vergewe te word nie. Dis soos 'n ding wat aan jou binneste vreet. Ek weet jy is nog kwaad vir my. Ek weet alles is nie wel nie.

Lê die fout by my? Is EK dalk die een wat moet vergewe? Omdat JY nie vergewe nie?

Omdat jy met haat en gif en wrokke rondloop. Ek wil nie dit vir myself hê nie. Of vir my kinders so 'n voorbeeld wees nie.

"As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle oortredinge ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie sal jul Vader jul oortredinge ook nie vergewe nie". Bergpreek. Hierdie woorde het ek al oor en oor gememoriseer.

Maar Here wat as hulle my nie vergewe nie? Moet ek hulle dan dáárvoor vergewe?

Dit is juis dit.

Ek moet steeds vergewe.

Sewentig maal sewe keer.

Ek vergewe.

Vier honderd en een...

Ek vergewe.

Vier honderd en twee...

Ek moet.
Vir my eie vergifnis.

Dit maak eintlik nie saak of hulle mý vergewe het of nie, al wat saakmaak is dat ek hulle vergewe en dat ek met 'n skoon gewete voor God kan staan.

Daarom KIES ek om te vergewe.

En dit maak my vry.
Mignon

4 comments:

  1. So waar Mignon! Om blaam te verskuif is ons eerste verdediging en dit begin soms nie by ons nie, maar ons moet kies dat dit by ons eindig om met 'n skoon gewete voor die Here te kan staan! So groei ons en verander ons om waarlik 'n weerspieeling van Jesus te wees! xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Annalize. Dis nie maklik nie, maar so nodig, en dit maak waarlik vry.

      Delete
  2. Ik vind jou echt een voorbeeld voor mezelf. Dank je wel voor je blogpost :-) Ik weet niet of ik dit zou kunnen. Je deed het toch niet expres?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jy weet hoe maklik mense offence vat. Veral as die eerste saadjie van onvergifnis reeds groei, dan is dit soveel makliker om weer aanstoot (offence) te neem vir die geringste dingetjie.

      Delete

Thank you for stopping by. I would love to hear from you so drop your comment in the box.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...