Tuesday, December 30, 2014

Vakansie murmurerings.


Ek staan en murmureer voor 'n pan warm olie. "Kry mens dan geen rus nie? Almal doen wat hulle wil doen! Vakansie!? Daars nie so iets vir my nie.." En so kla ek by myself. As ek verder in die emosies kom swem sou ek seker 'n traan kon uitkry ook!

So tussendeur deur die ryskoekies bak, wat ek weet die kinders dol op is, besef ek: wat is 'n vakansie sonder 'n mamma? 'n Mamma kan jou vakansie of maak of breek. Ek sien dit hier langsaan: 'n ma wat dikbek rondloop en skel en vloek en skree op haar b**se raasbekke. 'n Pappa wat al vroegdag dop skink en saam met die bure kuier.

Wat is 'n vakansie sonder 'n mamma wat jou gunsteling ryskoekies bak, die seesand uit jou hare was, die wasgoed op datum hou en 'n pappa om saggies jou rug te krap met slapenstyd. Vakansies gaan eintlik nie meer oor ek en jou nie, maar dit is vir die kinders! Hulle geniet die tentslapery en see toe gaan en surf en vroeg opstaan vir laagwater. Wat help 'n ou Martie-houding jou tog? Jy maak net almal om jou ongelukkig...

Vakansies is kindertyd! Bederftyd! Want volgende jaar is dit net boeke en somme en lees en skryf!

Sent from my BlackBerry® wireless device
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...