Wednesday, April 30, 2014

Gemmerpoeding op die stoof.





Versigtig: hierdie is 'n dubbel resep en NIE THM NIE!

Meng 1 koppie appelkooskonfyt met 1 koppie olie. Voeg 3 koppies meel, 1,5t koeksoda, 2t gemmer, 1t kaneel en 'n knippie sout by. Meng deeglik.

In 'n groterige dikbodem pot: 4 koppies kookwater met amper 2 koppies bruinsuiker, 1t kaneel en 1t gemmer. Terwyl die stroop net-net begin kook, voeg dan groot teelepels van die deeg by. Moenie roer nie. Kook oor medium hitte, met die deksel op, vir 10 minute.

Geniet!
Onthou, dit is nie vir Trim Healthy Mama's nie!

Mignon
Sent from my BlackBerry® wireless device

Tuesday, April 29, 2014

I hang on to her every word... the day my daughter read me a story.







Uiteindelik weer 'n wegbreek. Na ons gunsteling dorpie net oos van die suidste punt van Afrika. Struisbaai. Eintlik is ons hierdie keer op Agulhas. In familie van vriende se strandhuis. Ons is mos maar karavaan kamp mense. So hierdie is 'n nuutjie vir my met inpak van tasse en tasse en kratte. Ek is bederf met die maklike inpak van 'n karavaan!

En toe vroeg gisteroggend is ons weg uit die Kaap. In twee karre. Liza ry saam met my en sy babbel voort oor die boek wat sy lees oor ware oorlewingsverhale en op die ou end, "kom ek lees dit vir Mamma..."

En daar begin sy vir my voorlees. In Engels. Gevorderde Engels. So mooi en sonder foute. En ek hang alpad aan haar lippe, vir oor die 200 kilometer...

Jare se tuisonderwys voorlesing... en hier word ek betower met my eie voorlesertjie. Vier avontuur verhale van oorlewing oppad met vakansie. Ek besef: Wat 'n voorreg om iemand te hê wat vir jou voorlees! Wat 'n skat, elke uur wat ons vir ons kindertjies stories voorlees. Dit is onbeskryflik kosbaar!


Sent from my BlackBerry® wireless device

Wednesday, April 16, 2014

Stap vir stap, 'n Seder ete:

'n Christen Seder ete.

Seder beteken "orde". Daar is 'n sekere orde of volgorde waarvolgens die ete geskied. In die Joodse tradisie word die Eksodus verhaal deur die hoof van die huis voorgelees. Vir meer inligting oor die tradisie kan jy hier verder lees.

Vyf jaar gelede het ons as 'n tuisleer projek ons eerste seder ete gehou. Deur al die bladsye en bladsye gesif op die Internet en op die ou end besef dit gaan niks help om te probeer om die Joodse tradisie te probeer "namaak" nie. Dus het ons ons eie tradisie begin.

DISCLAIMER NOTICE: Wat hier volg is nie noodwendig die regte manier om die Seder ete te vier nie. Wat hier volg is ons gesin se jarelange oefen en probeer en byvoeg en weglaat. Dit is ons manier om kosbare betekenis aan Paasfees te voeg. Dít is tog op die ou end waaroor ons Christenskap gaan: dit wat Jesus vir ons kom doen het aan die kruis en sy opstanding!

1. In die week voordie ete, gaan ek met die kinders deur die Eksodus verhaal. Die 10 plae, en dan veral dit wat die laaste aand in Egipte gebeur het. Die begin van die Seder ete, die Pesach.

2. Ek google om te sien in watter week die Jode hul Pesach vier en kies dan 'n datum vir die Seder ete. Gewoonlik so na aan Goeie Vrydag as moontlik. Enige datum sal doen. Ek nooi dan spesiale vriende en familie om te deel in die geleentheid. Dis net te veel moeite om die Seder ete voor te berei en dit net vir jouself te hou! Nooi iemand!


3. Maak vroegtydig jou Seder bordjies. 

4. Jy het die volgende nodig vir die tafel: Soutwater in klein bakkies (waarsku die kinders vroegtydig dat dit soutwater is en nie drinkwater nie!), ongesuurde brood of Matzos, druiwesap in nagmaal glasies of een groot glas om om te stuur, haroset, 'n gekookte eier vir elke bordjie, selery, blaarslaai stukkies en pietersielie ook vir die bordjies. Die tradisionele seder bord bevat dan ook 'n lam skenkeltjie (beentjie).

Sit maar die hele dag opsy vir die voorbereiding en kry die kinders om te help!


5. Om 'n groot ete (na die seder ete) vir jou gaste te kook en te bedien na my mening is regtig oorbodig. In die verlede het ek dit gedoen, maar ek gaan dit nie hierdie jaar weer so doen nie. In plaas van 'n groot ete gaan ek slegs 'n klein geurige gaar skaap tjoppie op elke bord plaas. Dit is beslis genoeg om honger magies vol te maak. Na die eet van die eier en die ongesuurde brode is niemand regtig meer lus vir 'n groot bord kos nie. (Miskien nagereg en koffie...)

Terug by die tafel:


6. Die kinders kry elkeen 'n vragie om te lees, en dan sit ek by al die gaste die "antwoorde" op kaartjies by elke sitplek. Hiervoor kan jy my e-pos en ek stuur met liefde vir jou die kaartjies. Nommer jou kaartjies vooraf om 'n deurmekaar spulletjie te voorkom! (mignonstruwig@gmail.com)


7. Baie belangrik: Ek sê weer: daar is nie 'n regte of verkeerde manier om hierdie ete te doen nie aangesien ons as Christene nie werklik hierdie Joodse tradisie navolg nie. Jesus het ons reeds kom vrymaak van alle godsdientige rituele, teen 'n baie duur prys ook. Jy kan aan jou gaste sê om vry te voel om by te voeg by hul antwoorde soos hul gelei voel om te doen. En onthou: ons doen dit vir die kindertjies! Hulle geniet hierdie ete werklik so baie!

8. Laaste maar nie die minste nie: Maak 'n doring kroon. Voel hoe jeuk steek en brand daardie dorings jou vingerpunte en offer dank en lof aan ons Here Jesus vir alles wat Hy vir jou deurgemaak en verduur het op daardie verskiklike dag en uur.

9. Ek kan nou nie dink aan nog iets nie. Vra maar as daar iets is.

Geniet elke oomblik van hierdie ete
Liefde
Mignon




Wednesday, April 9, 2014

Ons besoek SANCCOB.

SANCCOB is 'n nie-wins organisasie wat hom toespits op die bewaring en rehabilitering van seevoëls, en meer spesifiek die Afrika pikkewyn. Ons het 2 weke gelede vir Mumble na Sanccob in Tableview geneem, en daarna het ons besluit om 'n volledige "backstage" toer by hulle te doen. Kliek hier vir die hele Mumble storie.

Nou nooi ek jou saam tot agter die skerms om 'n regte seevoël hospitaal te besoek:

"Sanccob's 5 star hotel. As much fish as you can eat!"

Picture perfect.


Tuesday, April 1, 2014

Wat is tuisonderwys? Wat is "tuisskool"? Of sal ek vra wat is homeschooling?

Wat is tuisonderwys? a.k.a. homeschool?

Die "tuis" gedeelte is die maklike deel. Dit is tuis. By die huis. By die kind se eie huis. Anders is dit nie meer tuis nie.

Ahhh. Nou kom die vraag: Wat is onderwys? Wat is 'n opvoeding? Wat is 'n goeie opvoeding?

'n Mooi deifinisie van 'n opvoeding is: Om 'n kind se persoonlikheid tot sy/haar volle potensiaal te ontwikkel. Vir die Christen ouer: Om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel binne die raamwerk van God se oorspronklike skeppingsdoel vir daardie spesifieke kind en persoon.

Is dit wat vandag in ons Suid Afrikaanse skole gebeur? Kry ons kinders 'n goeie opvoeding? Word ons kinders die geleentheid gegee gegun om hul volle potensiaal te ontwikkel? Akademies, persoonlik of andersins. Word ons kinders vandag voldoende voorberei vir die regte lewe daar buite?







Wat is die definisie van "skool"? Wel ons almal weet wat 'n skool is. Dit is 'n gebou of plek waar 'n groep kinders onderrig ontvang onder die leiding van 'n onderwyser of onderwysers. Vasgestelde ure, vasgestelde kurrikulum, vasgestelde kleredrag, verpligte sport oefening en deelname op die wamste tyd van die jaar. Klokke en swartborde en boeke en detensie en gestandariseerde toetse. Ingeperk, bietjies bietjies op 'n slag, of die kind gereed is daarvoor of nie. Ons kan nie die pedagogiek van 'n skool gebruik en sê DIT is wat leer is nie, OF dit vergelyk met dit wat by die huis gebeur of moet gebeur of nie moet gebeur nie. 

Ingeperk. Bietjies-bietjies.

SKOOL is nie = LEER nie

Maar die oorspronklike Griekse woord σχολή (scholē) het iets soos "vryetydsbesteding" beteken. Leisure: ledige tyd, vrye tyd, gemak, sonder hass, rustig doen.

Waat?


Kan skool wees dit wat ons doen (leer) as die werk klaar is? Kan dit wees dat die kindertjies eers leer as hul hul werk klaar gedoen het? As hulle ontspan? Speel? Speel-speel leer? Rustig is? 


Wat ek die beste onthou is wat na skool gebeur het! Die speel. Die fietsry. Boomklim. Sand speel en huise bou en goeters maak. Maats. Help vir mamma. Ballet. Dit is die goed wat ek onthou. Nie die ure agter die boeke nie. Ek kan skaars onthou wat ek in boeke geleer het. Maar ek onthou die eerste boek wat ek op my eie gelees het. Ek onthou die eerste ete wat ek gekook het. Die eerste hang-al-wat-'n-kombers-is-op-aan-die-wasgoedlyn en bou 'n huis! En die kunsklasprojekte! Dit onthou ek.




Vry.


Kan 'n kind wat tuis leer dalkies vergelyk word met 'n boom wat geplant word in sy natuurlike omgewing? 'n Boom wat self sy wortels tot diep in die aarde kan vestig en voeding en water vanself uit sy natuurlike omgewing haal, soos nodig, wanneer nodig? Rustig. Standvastig. Sterk. Vry.

So wat is tuisonderwys? Het jy al 'n antwoord?


Mignon


Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...