Monday, December 30, 2013

Vakansie oomblikke






Die kinders begin so stadigaan terug verlang. Joe meen hy gaan 'n hele bladsy in sy dankie boekie volskryf as hy by die huis kom! Ek kla glad nie. Hierdie mamma rus heerlik. Ek het al begin wonder WAT dit juis is wat my so besig hou by die huis. Miskien moet ek daar ook die wasgoed met die hand was want om een of ander rede kreukel nie klere nie so nie en die strykmonster het nie saamgekom hierheen nie! Miskien moet ons die grote huis verkoop en 'n tweeslaapkamertjie iewers op 'n kleinhoewe kry? Miskien moet ek ontslae raak van als wat ons lewens so volprop. Al die noenies wat mens so opgaar en bymekaarmaak.

Dan kan ek mos heeljaar vakansie hou?

Sent from my BlackBerry® wireless device

Sunday, December 22, 2013

Saturday, December 21, 2013

Thursday, December 19, 2013

Kerkbasaar op Struisbaai


Eerste ding wat ons vanoggend hoor is: Dis basaar! Ons was seker agt jaar laas by 'n kerkbasaar!

Dit wemel van die mense en die karrre en daar is 'n opgewonde atmosfeer in die lug. Mense staan in rye by die ATM's om weer 'n draai te gaan maak by die basaar!

By die hoofingang word ons verwelkom met lasagne en vetkoeke. Daar is gebreide popklere, 'n kersboom met wit engeltjies, tuisgebakte beskuit en pannekoek te koop. Op die plek waar die preekstoel moet staan sit 'n groepie mans en speel dis 'n lekker ou Jan Jan Jan Jan jou dierbare ding. Ou tannies se tone hou ritme en ek lees GOD IS LIG teen die een muur. ADVENT en NAGMAAL teen die ander muur. MENE MENE TEKEL brand in my hart en ek wil skree WAAROM MAAK JULLE DIE HUIS VAN MY VADER 'N HANDELSHUIS? Johannes 2:15-17

My hart bokspring. My ingewande keer om. Die trane brand en ek kies die naaste oop deur met 'n leun dat ek by die huis sal gaan pannekoek bak.

Is daar nie iewers 'n stil plekkie waar ek heen kan hardloop om eers 'n riempie te vleg nie?

Ek het baie lanklaas so 'n verskriklike hartseer ervaar. Dit is die derde keer hierdie jaar dat ons op hierdie dorpie kom kamp. Nog nie een Sondag het ek ervaar dat hierdie kerk so vol en vrolik was nie.

Waarom kan ons nie so 'n bedrywigheid maak vir ons Verlosser nie? Waarom kan ons nie ook so met die een voetjie ritme hou vir Jesus nie? Hoekom raak ons nie meer so vrolik oor Hom nie?

. . .

Kom word saam met my weer vrolik vir Jesus! Kom ons vier Jesus hierdie kerstyd. Kom ons sing en hou ritme vir Hom! Net vir Jesus alleen! LiEfDe wat kom mens word het, vir my en vir jou.

Mignon
Sent from my BlackBerry® wireless device

Wednesday, December 18, 2013

Vakansie: En die windjie waai...


Sien jy die seeperdjies op die water?
Sent from my BlackBerry® wireless device

Saturday, December 14, 2013

Spesiaal vir Jedidja - my vriendin daar in 'n ver ver land.


Jy moet verskoon dat ek nie antwoord op jou kommentaar nie. Dit is heeltemal onmoontlik via mobile!

En hier antwoord ek spesiaal: Die vorige foto lyk wel na woestyn, maar dit is glad nie. Dit is die area tussen Caledon en Napier. Landbou aarde. Eintlik na al die winter reen is dit verbasend groen.

Hierdie foto is van die Nederduits Gereformeerde Kerk op Napier. 'n Pragtige historiese gebou.

Struisbaai is 'n kusdorpie net regs van die mees suidelikste puntjie van Afrika. Die seewater is heerlik warm. Dit is 'n vissers gemeenskap, en hier vang die manne geelstert! My man se^ dat Struisbaai die langste ononderbreekte strand en kuslyn het in die hele suidelike halfrond - 19 kilometer!

Maar hier is ook die plek waar ons al die allervreeslikste wind beleef het! Al die karavane is vasgebind met stormstraps en lang tentpenne! Ek het gedink ek is enigste bangbroek wat spesiaal sandsakke gestik het om saam te bring om ons tent goed te anker. Tot my verbasing is ek glad nie die enigste kampbewoner met dieselfde planne nie. Byna almal het sommer met hul voertuie afgery strand toe om sandsakke vol te maak!

Nou sal jy dalk vra: Waarom op dees aarde in 'n karavaan gaan bly, in die wind, in die reen, sonder die gemak van jou eie huis???

Vir blaaskans. Vir wegkom. Vir by die see. Geen huisskoonmaak of stofsuig of afstof nie. Net vakansie. En dan, wanneer ons huistoe gaan, waardeer ons ons luukse huis met eie bad en eie kombuis en gemaklik slaap met geen vrees vir woeste winde nie!

Kersgroete
Mignon
Sent from my BlackBerry® wireless device

Vakansie: Pitstop


Wat is vakansie toe gaan sonder 'n pitstop by die Wimpy!?
Sent from my BlackBerry® wireless device

Vakansie: 'n Selfie


Ons is veilig oppad!
Sent from my BlackBerry® wireless device

Tuesday, December 3, 2013

Kindertuine.

Dit is mos altyd wanneer 'n mens bestuur dat die kinders lostrek met 'n vuurpeloton van vrae! Hierdie keer is dit vragies oor 'n klein botteltjie mosterd saadjies. Hoeveel vrae kan 'n mens dan nou vra oor mostersaad? Groei mostert regtig aan 'n boom? Hoe groot word 'n mostertboom en kan ons nog 'n avokadopeerboom plant en sy onthou die sonneblomsaad wat reusagtig groei in die voortuin! Ek probeer kophou met al die antwoorde en ek hoor myself sê: "Enige saad wat jy saai sal groei."

Stilte.

Doodse stilte in die kar.

Niemand sê enige iets nie.

Die string vrae het sommerso opgehou.

My eie woorde weerklink in my gedagtes:

ENIGE saad wat jy saai sal groei.

Ek wou nog vra en voor ek doen sien ek die uitdrukking op my oudste se gesig. Sy het dit ja. Enige saad is nie net oor saad nie maar elke daad wat ons doen is die saad wat ons elke dag plant. Elke aksie en reaksie en hoor en sien en ervaar is klein saadjies in ons harte en dit ontkiem en groei... in ons kinders se harte ook.

Wat lê alreeds en ontkiem in my kind se hart?
Wie is besig om wat te saai?
Wat kyk ons en lees ons en speel ons en wat plant ons?


My groentetuintjie laat my dink aan kinders grootmaak. Ek plant doelbewus die regte saad, gee die regte sorg en dan van iewers vandaan kom daar onkruid en pes en siektes en as ek nie my hand daarop hou nie is my hele oes daarmee heen! Ek koester die jong saailinge en raak dan super opgewonde oor elke bietjie nuwe groei.

Net soos kinders!

Watookal jy saai sal jy maai. Skrikwekkend eintlik as jy mooi daaroor dink. En wat 'n yslike verantwoordelikheid.

Kan ek en jy vandag bekostig om vir 'n oomblik die tuintjie te laat verwaarloos? O en die kosbare beloning en erfenis as ons ons alles gegee het!

Mignon

Monday, December 2, 2013

Boom, bomer, boomste?

Hierdie is beslis nie 'n boomblog nie, óf enige iets te make met plantkunde nie, maar dit is waar dit alles begin het. Hierdie avokadopeerboom is my wegkruipplekkie. My blaaskans. My 5 minute afskakel weg van alles en almal af.

Daar is vir my soveel simboliek in 'n boom. Daar is die "boompie" boek van Hettie Brittz met roosboompies en sierboompies en palmboomkindertjies! Koning David het kinders beskryf as olyfbome. Het jy al 'n klomp olyfboompies bymekaar gesien? Dis 'n woesterasie soos hier in my huis!

Dit is hoeka weer boomtyd... Is daar nie ook 'n boom in jou huis hierdie tyd van die jaar nie?

Die woordjie boom word in nie minder as 60 verskillende verse in die Bybel gebruik nie!

Die eerste Psalm: "En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome..." 

Saggéüs het vooruit gehardloop en in ‘n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien... Ek sal wat wil gee vir so 'n (blaas)kans!

En dan is daar ons wonderlike Afrikaanse spreekwoorde:

Buig die boompie solank hy jonk is
en die appel val nie ver van die boom nie.
Boompie groot, plantertjie dood;
hoë bome vang die meeste wind.
'n Boom gooi altyd 'n skaduwee,
en soos die boom val, daar bly hy lê.

My gunsteling: Vir die swartste moerbei klim 'n mens die hoogste in die boom!

Sal ek deur die bome die bos nie sien nie?
Of die bos vanweë die bome nie sien nie?

'n Avokadopeerboom was my gunsteling wegkruip- en uitkyk plek as kind. Hoog. Veilig. Onbereikbaar!

Onthou jy nog?


Hoe sal ons dan heet? Wat van Avokadopeerboomblog? Of terug na Avocado tree? Of miskien iets heel anders?

hELP 'N bIETJIE!
Mignon

Micah!


Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...