Monday, November 11, 2013

Renoster.

Sowat twee jaar gelede gaan ons vir 'n langnaweek langs die Bergrivier kamp. Daardie Saterdag loop Micah byna die heel dag rond met 'n suigstokkie in haar mond. Sondag oggend merk ek twee yslike gaatjies in haar voortande op. Kan dit een dag se heeldag suigstokkie suig wees of het ek dalk lankal die tandbederf misgekyk?

Ons gaan vol hoop tandarts toe. Ek het hoë verwagtinge dat my drie jarige gaan stilsit vir boor en stop. Maar ai, na baie mooipraatjies en beloftes glimlag die tandarts vriendelik en sê dat ons sal moet teater toe want Mejuffrou gaan beslis nie stilsit nie.

Na al die reëlings en kwotasies kanselleer ons alles: Ons kan nie bekostig om soveel geld te spandeer op melktandjies nie. Ek dokter met propolis en die tandjies bly mooi. Tot onlangs.

Gister stap ons weer vasberade by die tandarts in. Ek het vir Micah mooi voorberei en die beloning lê reeds in die kombuiskas en wag. Maar o wee toe sy die groot stoel gewaar druk sy haar voorkoppie styf teen my vas en klou vir al wat leef!

Ons vorder tot in die stoel en ek praat mooi en maak beloftes maar Micah hou laag. Die mooi tannie Tandarts glimlag weer en sê: Teater toe sussie, uitstel kan ons nie langer nie.

Teleurgesteld stap ek kop onderstebo en Micah al dansend terug kar toe. Net toe ek wil sleutel draai sê sy:

"Mamma, daai Omie met die gunne. . ." (Engelse geweer = gun; meervoud = gunne)

"Watter Omie Micah?"

"Daai Omie met die gunne. . . Mamma weet mos. . . daai Omie wat die renoster skiet sodat hy moet slaap dat die omie Dokter hom kan gesond maak. . ."

En daar lag ek so dat my arme renostertjie nie haar sin kon klaarmaak nie!



Mignon

2 comments:

  1. Kosbaar! Het die tandaarts haar aan "daai Omie" laat dink? :)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Moontlik die narkotiseur... :-) Ek kan my net voorstel die narkose Omie kom die operasie saal binne met 'n geweer onder sy arm!

      Delete

Thank you for stopping by. I would love to hear from you so drop your comment in the box.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...