Saturday, November 16, 2013

From my wedding album...




















 

Mooi mooi herinderinge!
Dankie my Bokka vir 17+ jare van saam lief hê, saam groei, saam lag, saam huil, saam siek wees, saam arm wees, saam ryk wees, saam bang wees, saam bly wees...

Vir altyd
Mignon 

Monday, November 11, 2013

Renoster.

Sowat twee jaar gelede gaan ons vir 'n langnaweek langs die Bergrivier kamp. Daardie Saterdag loop Micah byna die heel dag rond met 'n suigstokkie in haar mond. Sondag oggend merk ek twee yslike gaatjies in haar voortande op. Kan dit een dag se heeldag suigstokkie suig wees of het ek dalk lankal die tandbederf misgekyk?

Ons gaan vol hoop tandarts toe. Ek het hoë verwagtinge dat my drie jarige gaan stilsit vir boor en stop. Maar ai, na baie mooipraatjies en beloftes glimlag die tandarts vriendelik en sê dat ons sal moet teater toe want Mejuffrou gaan beslis nie stilsit nie.

Na al die reëlings en kwotasies kanselleer ons alles: Ons kan nie bekostig om soveel geld te spandeer op melktandjies nie. Ek dokter met propolis en die tandjies bly mooi. Tot onlangs.

Gister stap ons weer vasberade by die tandarts in. Ek het vir Micah mooi voorberei en die beloning lê reeds in die kombuiskas en wag. Maar o wee toe sy die groot stoel gewaar druk sy haar voorkoppie styf teen my vas en klou vir al wat leef!

Ons vorder tot in die stoel en ek praat mooi en maak beloftes maar Micah hou laag. Die mooi tannie Tandarts glimlag weer en sê: Teater toe sussie, uitstel kan ons nie langer nie.

Teleurgesteld stap ek kop onderstebo en Micah al dansend terug kar toe. Net toe ek wil sleutel draai sê sy:

"Mamma, daai Omie met die gunne. . ." (Engelse geweer = gun; meervoud = gunne)

"Watter Omie Micah?"

"Daai Omie met die gunne. . . Mamma weet mos. . . daai Omie wat die renoster skiet sodat hy moet slaap dat die omie Dokter hom kan gesond maak. . ."

En daar lag ek so dat my arme renostertjie nie haar sin kon klaarmaak nie!



Mignon

Wednesday, November 6, 2013

Krummels. . .

Ek sny 'n vars brood en honger handjies eet die warm krummels wat op die tafel beland. Dit is net glimlaggies en komplimente!
(Ek het twee mespuntjies gekneusde anys by hierdie resep gevoeg!)


Grootmense is nie altyd tevrede met krummels nie. Of die Marta in my dink net aan die gemors en wie gaan dít nou skoonmaak!? Klein mensies dink dis manna uit die hemel!

My kinders is dikwels aan die ontvangkant van tweedehandse kleertjies, en wat 'n vreugde is daar nie dan in my huis nie! Vir hulle is dit te wonderlik as iemand vir hulle 'n sak vol klere gee en hulle kan aantrek en uitkies en model speel. Kinders is altyd bly en dankbaar as iemand vir hulle iets gee. Die kleinste ou dingetjie, en hulle is in die wolke.

Ons, aan die anderkant, sien net die krummels raak. Ons dink: leftovers! Ons onthou nie dat die krummels se oorsprong eintlik heel vars brode is nie. Partykeer lyk die brood voor ons soos 'n stuk klip, en ons is ondankbaar, selfs verontwaardig.

Ongeloof.

Is dít wat ek kry? 'n Stuk klip? 

Ek het al 'n paar misbaksels gehad in my lewe! Anysbeskuit wat uit die oond kom so hard soos bakstene wat nie eens krummel as dit met mening op die kombuisvloer gegooi word nie!

Saam met die ondankbaarheid kom daar gewoonlik vergeetagtigheid. Ons vergeet al die goeie wat ons elke dag ontvang. Ongelowig kyk ons na die krummels en sien nie die voorsiening raak nie.

Voorsiening vir môre reeds vandag vir ons voorberei.

Kan ek jou aanmoedig om verby die krummels te kyk? Hou aan om die geskenke te tel en hulle neer te skryf. Maak jou hande oop in dankbaarheid, gereed om elke geskenk te kan ontvang... veel groter as die krummels hier voor jou...

Met liefde
Mignon

(Hierdie skrywe was oorspronklik in Engels gedoen, en was eers genoem The Crumbs in Life soos op 28/7/2012 hier op avotree.blogspot.com)

Monday, November 4, 2013

Die perfekte geskenk.












Die perfekte geskenk om te deel met iemand wat jy dalk nie so goed ken nie: Die nuwe bure of dalk
die vreemdeling in die straat.
Hy is ons perfekte Geskenk. Nie net vir ons nie, vir almal.
Immanuel, God met ons.
Hoe kan ek anders as om dit te deel.
Hier is die resep vir die soetkoekies, met gemmer en naeltjies. Die deeg kan oornag in die yskas
gehou word - myne het twee aandjies daar oornag - alles gebeur nie altyd in my huis soos ek beplan nie.
En die gratis skakel vir die patroonplaat, met die oorspronklike blog inskrywing hier...
Die perfekte geskenkie, met liefde gemaak.

Mignon

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...