Saturday, September 29, 2012

Waar om hoop te vind, en rape vir aandete.

Ons gee daardie eerste treë uit ons gemak zone, 
neem daardie eerste stappie... 
Met oë wawyd oop, 
en 'n knop in die keel ry ons Khatamandi binne...






Haar naam is Josephine. Daar is grys in haar wimpers. Daar is goud in haar hart. Sy staan met arms vol rape, die grond nog klam aan die wortels. Ek merk op dat die groente nog nie kans gehad het om klaar te groei nie, dit is heeltemal te vroeg uit die grond gelig.

Honger kan nie wag nie. 

Josephine vertel van 'n vrou en kind net hier anderkant wat nie kos het nie - sy gaan die rape vir haar opkook om te eet. Vanaand sal sy kos hê om te eet. Môre, wie gaan sorg vir môre?




Ek probeer verby die groot nood kyk en ek sien hoop: Kinders wat waai en lag en speel. Almal glimlag vriendelik terug. Waai vir ons. Hoop. Want 'n hart van klip kan sag word en hande kan oopgaan en gee. Ek is so dankbaar vir al ons vriende wat bereid is om te gee. Solank as wat daar nog hoop is...




En daar vind ons tussen al die klein straatjies nog 'n goeie Samaritaan met 'n sagte hart en oop hande bereid om te help. 



Wanneer jy hierdie lees, in jou gemaklike huis met skoon water uit 'n kraan, 'n warm bed, 'n bad en spoeltoilet, koskaste vol tot die einde van die maand met meer as genoeg - wil ek jou bietjie ongemaklik laat voel, want nie te ver vanwaar jy nou sit nie is daar 'n onsaglike nood, en iemand wat rape eet vir aandete...

Wie gaan die hoop bring?

Mignon

No comments:

Post a Comment

Thank you for stopping by. I would love to hear from you so drop your comment in the box.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...