Wednesday, November 6, 2013

Krummels. . .

Ek sny 'n vars brood en honger handjies eet die warm krummels wat op die tafel beland. Dit is net glimlaggies en komplimente!
(Ek het twee mespuntjies gekneusde anys by hierdie resep gevoeg!)


Grootmense is nie altyd tevrede met krummels nie. Of die Marta in my dink net aan die gemors en wie gaan dít nou skoonmaak!? Klein mensies dink dis manna uit die hemel!

My kinders is dikwels aan die ontvangkant van tweedehandse kleertjies, en wat 'n vreugde is daar nie dan in my huis nie! Vir hulle is dit te wonderlik as iemand vir hulle 'n sak vol klere gee en hulle kan aantrek en uitkies en model speel. Kinders is altyd bly en dankbaar as iemand vir hulle iets gee. Die kleinste ou dingetjie, en hulle is in die wolke.

Ons, aan die anderkant, sien net die krummels raak. Ons dink: leftovers! Ons onthou nie dat die krummels se oorsprong eintlik heel vars brode is nie. Partykeer lyk die brood voor ons soos 'n stuk klip, en ons is ondankbaar, selfs verontwaardig.

Ongeloof.

Is dít wat ek kry? 'n Stuk klip? 

Ek het al 'n paar misbaksels gehad in my lewe! Anysbeskuit wat uit die oond kom so hard soos bakstene wat nie eens krummel as dit met mening op die kombuisvloer gegooi word nie!

Saam met die ondankbaarheid kom daar gewoonlik vergeetagtigheid. Ons vergeet al die goeie wat ons elke dag ontvang. Ongelowig kyk ons na die krummels en sien nie die voorsiening raak nie.

Voorsiening vir môre reeds vandag vir ons voorberei.

Kan ek jou aanmoedig om verby die krummels te kyk? Hou aan om die geskenke te tel en hulle neer te skryf. Maak jou hande oop in dankbaarheid, gereed om elke geskenk te kan ontvang... veel groter as die krummels hier voor jou...

Met liefde
Mignon

(Hierdie skrywe was oorspronklik in Engels gedoen, en was eers genoem The Crumbs in Life soos op 28/7/2012 hier op avotree.blogspot.com)
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...