Monday, August 7, 2017

8 Julie 2017 - Die groot wag vir 'n moontlike diagnose...

Ek het nou al soveel vertwyfeling verval. Is dit dalk die lot van alle ma's met outistiese kinders? Selfblaam. Kon ek dit dalk anders gedoen het? Wat as ek vroeër hulp gesoek het?

Maar ek hét! En ek is net beskuldigings toegesnou oor tuisskool en hoekom en waarom.

En nou. Hiers ek nou. Op die drumpel van 'n diagnose. Die afwagting maak my mal. Ek het nog niks vir Ilze gesê nie.

Al die tekens was daar. Van kleins af.

Ilze het nie veel gehuil nie.
Sy was 'n stil, tevrede, maklike baba.
Eers op 7 maande probeer begin regop sit.
Na 13 maande begin treetjies gee.
Die pediater/dokter het destyds gesê die mylpale sal laat wees omdat sy op 36 weke gebore is.

Maar ek het 'n moeilike swangerskap gehad. Urienweginfeksie op 23 weke het my in volle kraam gesit teen 24 weke en daarna was ek op Adalat en vir 12 weke in die bed. In dieselfde tyd het ma haar eerste beroerte gehad en sussies het verkwalik dat ek nie meer betrokke was by ma se rehabilitasie en help nie maar my eerste prioriteit was my ongebore babadogtertjie.

Sy het eers op 3 jarige ouderdom begin woordjies sê. Ek het ure elke aand met 'n prentjiesboek gesit en die woordjies aangemoedig.

Droomertjie is wat ons haar genoem het. My buite kind. Lief vir diere meer as mense.

Gesukkel om te eet. Die tafelargumente wat ons al gehad het oor kos! Sy vertel nou hoe die kos "smaak verloor het" terwyl sy dit kou en dan kon sy dit nie afgesluk kry nie.

Ilze kon vir ure aaneen op haar eie speel.

Kunstig. Baie kunstig.

Lomp. Geen "ball sense" nie. Sy het haarself onlangs uit haar toonnael uitgeval.

Nooit maatjies gemaak in die kleinskooltjie nie. Altyd afgedwaal. Eenkant. Ogies op die vloer opsoek na akkedis of geitjie se maatjie.

Sy sukkel vandag om haarself in woorde uit te druk. Social cues tel sy glad nie op nie. Idiome neem sy letterlik op.

Maar vir nou is dit die groot wag...








Wednesday, July 12, 2017

My (ons) tafelgediggie - elke aand...






Kom julle! Kom eet.
Ilze kry vir ons messe en vurke.
Dank Hom dank Hom kinders klein
vir die kos en son wat skyn!
Micah: Ek eet nie dai nie.
Anika: Ek wil van alles hê.
Micah! Sit op jou boude.
En eet jou kos. In jou bord.
Nie op die tafeldoek nie.
Emma hou die kos in jou bord wat jy nie wil hê nie.
(moenie dit in mý bord sit nie)
Anika moenie rondloop nie.
Kom sit nou.
Nee jy kan nie nog sap kry nie.
Pappa moenie op die tafeldoek mors nie.
Micah sit op jou stoel en eet oor jou bordjie!
Liza: Ilze eet toemond.
Pappa: Het Minki vandag kos gehad?
Anika kom sit by die tafel.
Micah sit plat en vra net dat iemand jou help.
Pappa: Is daar poeding?
Wie se beurt is dit vir skottelgoed was?
Dank Hom dank Hom kinders klein
vir die kos en son wat skyn!

Dèjávu elke aand.
Hoe klink dit rondom jou etentafel?

Wednesday, July 5, 2017

Emma is 7!















Baie geluk met jou verjaarsdag mamma se engelkind. Ek kan nie glo jy is al sewe jaartjies oud nie. Jy is soos 'n helder sonstraal in ons lewens. Jy is my helpertjie, altyd reg om te help, eerste om hand op te steek. Baie baie baie lief vir jou! 'n Laatlammetjie het darem net die spesiaalste plekkie in 'n mamma hart.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...